IsabellaNiehaus Bella's Blog

n Tafel vol Dankbaarheid

n Tafel vol dankbaarheid op ‘n duin in die Weskus!

SJOE!!!! Die helfte van 2017 is sommer net weg! Verby! Voel of ek in die rondte wil tol en skreeu…stop…stop! Ruk die handrem op!

So paar ‘mishaps’en reuse veranderinge in die eerste paar maande van die jaar. Maar ook die lekkerste ondervindings. Slim ‘quotes’ sê altyd : maak die een deur toe maak ‘n ander oop. Ek stem nie saam nie. Ek dink: jy stap rond tot jy ‘n mooie muur sien en besluit: ek wil weet wat aan die anderkant van die muur aangaan. Jy slaan ( mooi woord) ‘n gat in die muur, sit ‘n kosyn en beautiful deur in. En daar is dalk’n nuwe plek van magic maak.

Na vyf en ‘n half jaar van ‘market madame’ speel by Market at The Palms in Woodstock is dié seisoen in my lewe verby. Maar ek skryf later ‘n storie oor Market at The Palms . Wat ‘n wonderlike ondervinding!

My rekenaar/hardeskywe en ‘n driekwart klaar manuskrip verdwyn drieuur op ‘n oggend hier in my huis. Ek lê lekker en slaap ‘n meter verder. Het Sophie nie gek geraak met die man in die deur was ons ook dalk deel van die aaklige statistieke van ons land.

Jip dit is hartseer. ‘n Jaar se werk en ure se navorsing en skryf en plak en droom wat verruil word vir ‘n vinnige tik fix.

Vrystaat kind: kry ‘n nuwe APPELTJIE en begin weer!

Die Duin was verlede jaar vol wonderlik hoogtepunt. Daar is uit die mooiste kookboeke kosgemaak. Die lekkerste wyne gedrink en die wonderlikste mense saamgesnoer om die tafel. Lang uitgerekte etes uit die kookboeke van die meesters: Louis Jansen van Vuuren en Hardy Olivier: Storie van ‘n Huis, Johnny Hamman:Eenmaal, Arina du Plessis :Plaaskos, Vickie de Beer :My Low Carb Kombuis,Carmen Niehaus: Carmen se Beste Resepte, Nina Timm : Maklike Resepte uit Nina se Kombuis, Barbara Joubert: Kostalgie,Zola Nene: Simply Delicious en Niel Stemmet: bitter+soet.

Mynhardt Tobias Joubert kom kook hier. Sjoe, mooi kos. Lekker kosse. Piet Marais en Frik Oosthuizen van Santa Anna’s en aanbieders van Laat die Potte Prut kom braai.Dis ‘n enorme braai wat op die dek arriveer. Reuse stompe hout en twee baie baie kreatiewe manne. Vis in growwe sout ( nuutste party trick op die Duin), sardyne op die vuur, mossels in swart potte op die vuur….en ‘n ‘shortrib’ wat so op sy eie met indirekte hitte gaar geword het tot ‘total perfection’!!



Ek het gekyk.Saamgekook. En ek het geleer. En besluit 2017 is die jaar van self kook op die Duin. Ek is g’n chef. Sommer net iemand wat lief is vir kook. Noem mens my ‘n ‘foodie’ word ek dadelik vreesbevange!! Nee. Ek hou van kook. Mal oor kombinasie van smake. Dalk is ek ‘n kok. En ek hou van mooi tafeldek. En ek is gek daaroor om mense. Klomp mense, om een tafel bymekaar te bring. En dit is hulle. Die gaste. Al die uiteenlopende mense wat al die magic aan die dag gee!


Agter my stoof met die mooiste uitsig voor my luister ek hoe vonkelwyn proppe skiet. Sien ek met ‘n groot glimlag hoe die reuse skinkbord oesters seremonieël buite toe gegedra word. Hoe die oesters opgeslurp en die skulpe sorgloos op die duin gestrooi word!




Ons drink wyne uit wonderlikste kelders. Ons gebruik met oorgawe liters erg spesiale olyfolie. Vars kruie uit Louisa se tuin hier op die golfbaan en net die beste en varste uit die see. En ek besef dit is wat ‘n Langtafel op die Duin is. Als VARS. Als ‘real”. Al is dit net ek. So by my rooi sementtafel. En met my drie potte en twee panne agter my stoof wat DIT weet.


Ons maak magic! My pelle kom help kook. Ulrich Donaggi van Merry Widow Gastehuis in Hopefield. Beautiful handsome Ulrich. Kotie van Tonder van Darling. Die mushroom guru. Miss Lelie, Karen Moyle van Flowers on the Stoep in Darling. Francois Pistorius wat altyd die ongelooflike fotos neem. Rudoplh Shepherd. Restaurant eienaar . Wat al te maklik kom help. Rihann Brand my ander kind met al sy vars visse en ‘n wonderlike palette. My Taro kind. LOL…hy is ‘n meester met roer! Veral as die garnale al halfpad gaar is! Maar hy dra meubels en tafels en stoele laataand en vroegoggend rond. En dan my hart se punt. David Kotze. Hy is doofstom. Werk al vir 6 jaar vir my. Het eers die tuin gedoen. NOU is hy die baas oopmaker van oesters. Niemand maak ‘n oester oop soos hy nie. Hy dek my tafels. Hy stryk servette. En hy is my pel!

In die winter kom maak David Saterdae al die ‘dongas’ in die tuin toe, snoei, plant en gee sommer die huis binne ook so vinnige was met die mop. Borsel die honde en kan nie vir Joy die boskat genoeg liefde gee nie! As ek by die mark is, kry hy ‘n geldtjie om vis en chips te koop by die viswinkel om die draai. As ek hier is, maak ek vir ons kos. Ek dink dit is sy gunsteling dae. Ek dek vir ons twee. Met lapservette , mooi borde en ou silwer. Net soos ‘n Langtafel. En so sit ons in stilte . As hy klaar is, was hy die borde en met ‘n hand op die hart wys hy hoe lekker dit was.

Met tye toets ek my brousels op hom. En dié resep vir bone en spek hieronder is een van sy gunsteling disse! Dit, skons en plaatkoekies en pannekoek met ‘n kaassous en ham vulsel!

Tot ek weer met julle gesels…..’n aanhaling uit ‘n ongelooflike tydskrif KINFOLK . My kosbare vriendin Karien Buter stuur die tydskrif vir my uit Skotland. Daar is in een van die uitgawes’n artikel Your Mother’s Mother. “A supper club in Berlin serves up dishes straight from grandmothers’ memories.”

Vir elke ete word ‘n internasionale sjef genooi om ‘n menu bymekaar te sit uit herinneringe van hul kinderdae. Heelonder op die blad sê Kavita Meelu, stigter van die klub: “If you know a little bit behind why people are serving you a meal , it makes it taste better. It not just the food - its all of these things that come to the plate with you.”

Hoe mooi is dit.

Uit my kinderdae onthou ek ‘beans and samp’, met ‘n ui en ‘n stukkie vleis. En’n stukkie vet aan die vleis. Wanneer die bone en samp en vleis sag was, is daar morogo in fyn repies bygesit….net om vinnig gaar te stoom. Sout en witpeper. Dit is my lekkerste herinnering aan ‘n wonderlik Suid-Sotho vrou: Maria Dansa. Sy was ‘n groot vrou. Lank met groot heupe en ‘n derrière. Rooi bandjie om die enkels. En die mooiste fyn hande. Sy het oorryp wit tuinrose in ou silver bakke gerangskik . Die mooiste tafels gedek. Sy’t die beste beestert gemaak. ‘n Vispastei wat ek steeds probeer namaak. ‘Crumpets” vir ontbyt en ‘n vars appelpoeding met huisvla . In my hart druk ek gereeld via Maria.

Hier is my bone resep . Ek maak dit graag vir David as hy kom werk. Hoe langer dit rus kans het hoe beter. Saam met dit maak ek dikwels net groen slaai….of ‘n hoenderfilet wat vinnig gebraai word met growwe sout/swart peper en suurlemoensap.

Bone met spek
1 Pak Imbo gespikkelde bone wat jy oornag en sommer langer in koue water laat week.
1 pak LEAN LEG BACON of enige spek wat jy wil . Snipper dit.
1 rooiui in fyn blokkies
Hele paar takkies vars tiemie. My gunsteling kruie.
1 suurlemoen se sap.
2 koppies witwyn
1 liter water
sout/swartpeper en wit peper na smaak.
4 eetleps olie

Jy maak so:
Maak olie warm oor medium hitte. Begin met die uie en tiemie. Sodra uie effe sag is voeg die spek by. Spek moet net net gaar wees dan word die bone bygesit. Braai vir ‘n paar minute. Nou voeg jy die wyn by, asook die water. Sit die deksel op en laat dit stadig kook tot jou bone sag en gaar is. Laastens voeg jy die suurleomoen sap, genoeg sout en peper van jou keuse by. En nog tiemie as jy wil.Sodra jy sien dit begin enigsins droogkook, sit nog bietjie water en wyn by.

Ek hou daarvan as dit amper soos ‘n lekker dik boontje sop is. Jy kan dit op ‘n sny vars ciabatta of sour dough bedien…of met ‘n slaai. Groenblare. Butter lettuce met die wonderlikste vars olyfolie, sout en witpeper.Soms braai ek ‘n hoenderfilet by…en die bone word ‘n bykos!

Tot ‘n volgende keer.

Onthou : Elke dag is propvol honderde oomblikke van magic en joy. Maak jou oë oop en sien dit raak!En ENJOY!

Bella Isabella Niehaus

Kosbare memories, dankie dat jy dit deel. Ek verlang ook sommer na my kleintyd op 'n plaas in die Vrystaat. Baie groete !

Wow Bella dit was nou 'n regte treat vir my - Sondag oggend en ek's steeds in die kooi en ek lees jou blog and I can concur with everything you have written! I have had the privilege to be at your Langtafel and experience the magic but more than that, the privilege is to know you Bella - your kindness, generosity of really caring & sharing knowledge/ideas, inspiring others and wanting only the best for them (even when they don't 'get' it!) - Bella you are the magic xxxx (jammer maar I write & speak English & Afrikaans sommer deurmekaar!!!)

So lekker nou saam gekuier op die duin en heerlik n traan gestort oor jou mooi verhouding met David
Engelmens jy

Beautiful stuk, jy het sommer vir my in trane oor die mooi tafel wat jy dek vir jou en David. n Heerlike feesmaal net vir julle, Isabella geseend sal jy wees

(will not be published)
(optional)
remember me
subscribe to updates