IsabellaNiehaus Bella's Blog

Kookkuiers!

Dit was Errieda du Toit wat my kookklasse, KOOKKUIERS, gedoop het. En dit is net dit: ‘n kuier waar almal help kook! Jy help met iets. Al is dit net om die wyn te skink!

Die lewe op die Duin het ‘n heel ander lekkerte gekry met die kookklasse. Eintlik ‘n kleine Langtafel….met die verskil dat die gaste die kookwerk doen! Dit voel altyd soos ‘n klomp lekker vriende saam in die kombuis. En dan die ete daarna met stories want dan is ons al ou vriende!

Die jaar het ‘n trekkerigheid aan hom. So of daar nie ‘n ritme is nie. En terwyl ek so peins oor wanneer skop daai ritme in, is dit al die agtste maand! En skielik weet jy: nou moet jy begin dinge doen. Nou moet daai creative juices vloei! Tog was daar maande wat dit gewoel het. Wat ek die pad gevat het met die kookkuiers. Ek het behoorlik begin ‘travel’ daarmee. So: na ‘n jaar van klasse op die Duin het daar ‘n interessante nuwe lekkerte gekom.



Die eerste kookklas buite die Duinhuis kombuis was by Rozitha Oosthuizen in Kampsbaai.






En vandaar na Marie Gauche in Hermanus.




Toe na Lienie Koen in Noordhoek.






Carlene Boshoff en Retha Alberts in Worcester.




Sunelle Kotze by De Zalze, Stellenbosch.






En Adene Vlok in die Paarl!





En oral waar ek gaan ry die bokse Hermnauspietersfontein saam: Bloos. Kat met die Hout Been. Skoonma. Kleinboet.

Die spyskaart groei: Gerookte Snoek Kaaskoek. Mosselbobotie. Masala. Harissa. Mayonnaise. Vispastei. Een pan Hoender. Sjokolade Tarte. Creme Brulee. Guiness Koek. Vars appelkoek. Blomkool sop met geposjeerde pere. Witvis met ‘n whiskey roomsous. En en en.

Intussen kry ‘n kookboek lewe. MAAR dit is ‘n ander storie!

Resep uit die kombuis:
Mossels
Blue Ocean Mussels hier in Saldanha se mossels kom verpak in bokse van 5 kg of 2 kg. So vars as wat jy kan kry. Nico Prins , mosselboer, bly net hier agter my en kom lewer sommer af! Die baarde word uitgeruk. Botter en olie in die pot. Dan uie/knoffel sommer grof gekap en ‘n reuse handvol vars tiemie. Dan die mossels. Sit die deksel op. Hulle stoom tot perfeksie in hulle eie water. Na so 8 tot tien minute, gee ‘n goeie roer en as die meeste oop is so lekker half koppie witwyn! Koningskos! Met ‘n vetkoek of varsgebakte brood om daardie wonderlike sous op te slurp!

Tot ‘n volgende keer mooi bly.
Bella Isabella

NS: Klasse in Augustus.
15 Augustus Duinhuis
28 Augustus by Carlene Boshoff in Worcester
29 Augustus by Mynhardt Joubert se Stasiestraat Kombuis in die Paarl

Om te bespreek stuur vir my ‘n epos na bellaniehaus24@gmail.com….of na bellnie@iafrica.com.

Lovely Bella! So appetising and inspiring... with beautiful photographs. Besides the food, the photo with the donkeys, and the shaggy pony.......just love.

Jeanne XX

(will not be published)
(optional)
remember me
subscribe to updates